Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 07 FEBRUARIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Neville Swanepoel, ZS6AQX, op 25 Januarie stil geraak het. Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PE-TUISKONSTRUKSIEKURSUS IN DIE WEEGSKAAL

BESPREKINGS VIR DIE PIC-KURSUSSE OOPGESTEL

SWAK BEDRYFSPROSEDURES IS KOMMERWEKKEND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PE-TUISKONSTRUKSIEKURSUS IN DIE WEEGSKAAL

Daar is tot dusver so min inskrywings vir die tuiskonstruksiekursus in Port Elizabeth, wat vir Saterdag 20 Februarie beplan is, dat die kursus gevaar loop om gekanselleer te word. In beide Johannesburg en Kaapstad moes voornemende kursusgangers weggewys word. Die kursus in Durban was gister deur 15 kursusgangers bygewoon, wat die minimum getal is wat die kursus lonend maak.

Besprekings vir die kursus in Port Elizabeth sal nog tot Donderdag 11 Februarie aanvaar word, waarna ‘n finale besluit geneem sal word. Vir besonderhede, besoek www.sarl.org.za en kies RTA.

BESPREKINGS VIR DIE PIC-KURSUSSE OOPGESTEL

Binne minute nadat die aankondiging op die SARL se webwerf verskyn het, is die eerste bespreking ontvang. PIC-kursusse sal in Gauteng, Kaapstad, Durban en Port Elizabeth aangebied word.

Die kursusgelde is R300 vir SARL-lede en R650 vir nie-lede. Die bedrae sluit in: onderrig, benodigde programmatuur op ’n laserskyf, ’n demonstrasiebord en 2 projekborde.

Volle besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za. Klik op RTA.

SWAK BEDRYFSPROSEDURES IS KOMMERWEKKEND

Deelnemers aan die Presidentsnet, verlede Sondagaand, het hulle kommer uitgespreek oor swak bedryfsprosedures en die gebruik van ongewenste taal oor die lug. Terwyl hierdie onaanvaarbare praktyke slegs deur ’n klein aantal radioamateurs gebruik word, bevlek dit die beeld van die stokperdjie.

’n Ander saak wat deur verskeie deelnemers aangeroer is, is die misbruik van krag deur deur ZU-lisensiehouers wat nie hou by die neergelegde perk van 20 Watt nie. ZU-lisensiehouers wat oortree kan boetes of kansellasie van hul lisensies in die gesig staar. Hulle moet hou by die regulasies wat op die ZU-klas lisensies van toepassing is.

Die gebruik van ongewenste (onwelvoeglike) taal oor die lug is ’n ernstige oortreding en kan lei tot die kansellasie van die skuldige se lisensie.

Bogenoemde en verskeie ander bedryfsaangeleenthede sal bespreek word wanneer die SARL-Raad vroeg in Maart byeenkom.

76 Radioamateurs het na die Presidentsnet gerapporteer, maar daar was ongetwyfeld meer luisteraars. Die gelukkige wenner van die geheuestokkie is ZS1BFE. Dit sal spoedig aan hom gepos word.

SARL SE LEDETAL NADER AAN DIE 1 400 MIKPUNT

Die afgelope week het die SARL 18 lede bygekry. Die ledetal staan nou op 1 370. Ons verwelkom die volgende nuwe en ou lede wat weer by die SARL aangesluit het:

ZR1PN - Paul Le Roux
ZR6JA - Jacques van der Merwe
ZS6BJ - Gabriel Joubert
ZS6FOX – M W van Alphen
ZS1CD - Barrie Evrard
ZS6BCI - Wally Moll
ZR2JG - Johannes Geldenhuys
ZS2MR - Martin Ras.

Ons verwelkom ook die volgende nuwelinge by die SARL en amateurradio. Hulle sal gedurende hierdie week luisteraarsroepseine ontvang:

Kevin Smith
Graham Lambrechs
William Wright
Barry Els
Vincent Molly
Desmond Mullen

DIE BEDRYF VAN ZS10WCS VERSKUIF NA DIE VRYSTAAT

Die Bloemfontein Amateurradioklub sal die spesiale gebeurtenis roepsein, ZS10WCS, gedurende Februarie gebruik. Tot dusvêr word die rekord vir die meeste QSO’s en DX-kontakte deur die Boland Amateurradioklub gehou. Sal die lede van die Bloemfonteinklub die telling van die Bolandklub kan verbysteek? Hulle het een voordeel in hulle guns en dit is dat voortplantingstoestande nou baie beter is as wat dit verlede September was.

KOMPETISIENUUS

Ongeveer 78 stasies het aan die SARL se eerste Klubkompetisie op 80 m deelgeneem wat op Woensdag 27 Januarie gehou is. Negentien logs is ontvang.

Die uitslae is soos volg:

1ste ZS Contest Group, 3 logs, 93 punte;
2de Port Elizabeth ARV, 2 logs, 63 punte;
3de Wesrand ARK, 7 logs, 59 punte;
4de Antieke Draadloosvereniging, 4 logs, 59 punte;
5de Sasolburg ARK, 1 log, 31 punte;
6de Lichtenburg ARK, 1 log, 17 punte;
7de Secunda ARK, 1 log, 4 punte.

Die SARL se volgende 80 m Klubkompetisie word op Woensdag 31 Maart gehou en is 'n digitale kompetisie met PSK en RTD.

KLUBAKTIWITEITE

Op Maandagaand 8 Februarie bied ZS6JVT, die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster se Radioamateurklub in Rietfontein Pretoria, `n inligtingsaand vir jong belangstellendes in amateurradio aan. Die verrigtinge vir die aand sluit in:
1. In ‘n Powerpointaanbieding van ongeveer 45 minute sal daar gepoog word om aan teenwoordiges te vertel en te wys wat amateurradio is en behels.
2. Bespreking oor die aanbieding van RAE-klasse vir die klasse A en B lisensies.
3. Daar sal aandag gegee word aan kompetisies, uitstappies en bouprojekte wat in die vooruitsig gestel word.

Ouers en leerlinge word hartlik uitgenooi om na die praatjie te kom luister wat om 19:00 in die Elektronikasentrum by die skool aangebied sal word. Dit sal ook waardeer indien huidige amateurs ook die praatjie kan bywoon sodat daar na die aanbieding op `n moontlike een tot een basis met belangstellendes gepraat kan word.

Vir meer besonderhede kontak Johan, ZS6PSS, by 082 446 1581 gedurende kantoorure.

Die Sandton Amateurradioklub begin met die aanbieding van RAE-klasse vir die Klas A lisensie op 10 Februarie om 19:00 in die Nasionale Amateurradiosentrum in Honeydew.

Enige persoon wat belangstel om die klasse by te woon is meer as welkom om eerskomende Woensdagaand by die NARS in te loer of, indien verdere inligting verlang word, kontak vir Mark Zank, ZS6YES, by 083 367 8943 of stuur ’n e-pos aan hom na zs6yes@gmail.com.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Tans is sonvlek 1 043 die enigste aktiewe sonvlek op die sigbare sonsoppervlakte. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen vyftien en twintig.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa gematig wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Februarie - AWA GG-aktiwiteite vandag nog aan die gang;
8 Februarie – 19:00, aanbieding vir belangstellendes in amateurradio by die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster;
13 en 14 Februarie - SARL se Nasionale Velddag;
20 Februarie - Tuiskonstruksiekursus in Port Elizabeth;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie - Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za en
27 Maart - 2010 SA AMSAT-ruimtesimposium;
31 Maart – SARL 80 m Klubkompetisie met PSK en RTD.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003